Artikel in “Leef Tydskrif” 2024 Deur Riëtte van der Wat
Haar kunstenaarskap is ʼn uitvloeisel van Annemie Odendaal se strewe om die wêreld met een kunswerk op ʼn slag, ʼn gelukkiger plek te maak.Daar is ʼn sonderlinge doelgerigtheid omtrent Annemie Odendaal wat ʼn mens lank na ʼn ontmoeting met dié veelsydige kunstenaar bybly.
Na haar studies in grafiese ontwerp het Annemie haar eie ontwerp-onderneming begin, maar sy was ontnugter oor die gebrek aan kreatiwiteit in realiteit. Toe haar pa haar genooi het om by sy konstruksie-onderneming aan te sluit, het sy nie gehuiwer nie, en vir dertig jaar het Annemie in die oënskynlik harde wêreld van bakstene en bouterreine floreer.
Ons gesels in haar nuwe tuisateljee- en gallery in Mistream, Centurion. Die dubbelvolume vertrek met die spits-plafon lyk nes ʼn katedraal. Dit is immers haar veilige hawe en die plek waar sy geïnspireer voel om haar skeppendheid vlerke te gee.
Teen die spierwit mure hang haar linosneewerk, illustrasies en foto’s wat met komplekse borduur-steke ingekleur is. Op podiums pronk bronsvarkies, sommige van hulle met stuitige, oopgespreide vlerkies. Haar kuns-muse, ʼn origami-hasie Lapine, het ʼn ereplek teen die muur.
Annemie se geweldige produktiwiteit sedert sy haar in 2019 voltyds aan kuns begin toewy het, is verstommend, veral in die lig daarvan dat sy voorheen nooit enige formele ervaring of opleiding in die beeldende kunste gehad het nie.
Dit was ’n bergfietsongeluk in 2017 wat Annemie tot stilstand geruk het. Dokters het haar vergruisde regterhand, waarvan al die ligamente afgeskeur is, gered, maar vir amper ʼn jaar daarna, was dié hand buite aksie. “Na die ongeluk het ek besef my lewe was uit balans. Ek was nie meer gelukkig in die konstruksiebedryf, of in my persoonlike lewe nie. As ʼn mens gemaklik raak met jou omstandighede, is verandering moeilik. Maar met dié dat my hand so seergekry het, moes ek luister. Ek moes my lewe verander. Ek het begin vra waarom ek hier is en is herinner aan my Godgegewe talent. Ek het besef ek het net een lewensdoel en dit is om vreugde te bring deur middel van kuns.”
So vasberade was sy om haar droom te verwesenlik, dat sy haarself met haar linkerhand leer teken het en ʼn ingewikkelde kunswerk van hande geskep het wat haar frustrasie uitbeeld. “Daar het ek geleer dis nie my hande wat die tekenwerk doen nie, maar my brein.”
Annemie het al wat ʼn kuns-kursus is begin neem en haarself verdiep in die tegniese besonderhede van linosneewerk, skilderkuns, beeldhou en illustrering. Een van haar leermeesters, was die bekende kunstenaar Diane Victor. Haar ondersteunende lewensmaat en klankbord – Cor – het haar subtiel begin aanpor om meer op haar kuns te fokus. “Toe ek een middag by die huis kom het hy my met ʼn linosnee-pers verras. Ek het besef ek moet dit doodeenvoudig begin gebruik en bemeester, mens kyk immers nie ‘n gegewe perd in die bek nie! Cor is die een wat my nog altyd aangemoedig het om te spring as ek bang was, want wat het ek tog om te verloor?”
In daardie stadium was Annemie nog voltyds by die konstruksie-onderneming betrokke, maar haar aandag, wat voorheen ten volle op haar projekte gefokus was, het begin wankel. “Ek was nog altyd baie georganiseerd, maar toe ek vir die eerste keer ʼn vergadering misloop, het ek besef ek gee nie my werk óf my kuns die aandag wat elk verdien nie. Ek het besef ek moet kies, en het toe kuns ʼn kans gee en voltyds daarop begin fokus. Dit was ʼn enorme geloofsprong. Almal het gedink ek het die klits kwytgeraak. Ek los ‘n gemaklike lewe op ‘n later stadium in my lewe, maar ek het net geweet dis my roeping.”
Annemie was nog maar ʼn kort tydjie voltyds kunstenaar toe sy besluit het om aansoek te doen vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging van Visuele Kunste (SANAVA) se kuns-residensie in Frankryk, Cité des Art. Kunstenaars kry met dié program die geleentheid om vir drie maande in Parys te woon en werk en kry ʼn vrypas om gallerye en museums te besoek.
“Ek het gedink dis onwaarskynlik dat ek gekies sou word, maar danksy ʼn ongelooflike sameloop van omstandighede, is ek in 2019 gekies om Parys toe te gaan. Ek was voorheen al baie in Parys en ek het gedink dit sou maklik wees om daar te werk. Ek sou mos net by ʼn straatkafee kon gaan sit en teken? Toe nou nie. Ek is oorrompel deur indringer-sindroom, want wie was ek nou eintlik?”
Na twee weke in die Stad van Kuns, het sy steeds geen werk geproduseer nie. “Dis toe dat ek besef ek moet myself weer anker. Ek het gaan sit en origami-figure begin vou.Dié ingewikkelde papierkuns het haar nog altyd gefassineer. Die vou-proses dwing my om stil te sit, ten volle in die oomblik te wees en om intens te fokus. Dit is strelend en terapeuties. Origami is vir my ‘n metafoor vir die lewe. Elke besluit wat jy neem en alles wat jy ervaar, vorm jou, nes elke papiervou die origami beeld vorm.” Daar, by ʼn Franse-straatrestaurantjie, het ʼn origami-hasie sommer dadelik onder haar vingers vorm aangeneem. Sy het die hasie summier Lapine (die vroulike vorm van ‘haas’ in Frans), gedoop en het oral in die stad van haar papier-muse begin foto’s neem. Haar notaboeke is gevul met inktekeninge en sketse van Lapine. Hoewel die hasie toe nie opgeduik het in haar uitstalling aan die einde van die drie maande nie, speel die hasie sedertdien gereeld ʼn rol in baie van Annemie se kunswerke.
Annemie is berese en belese; ʼn self-erkende “patologiese kursusganger”, wat haar kennisveld oor alles en nog wat gedurig verruim. Sy floreer met orde en in haar ateljee is elke stuk gereedskap en kwas op sy plek.
Telkens wanneer die gedagtes vir ʼn nuwe reeks kunswerke begin vorm aanneem, benader sy dit soos ʼn in diepte-navorsingsprojek, met die simboliek en dieper lae betekenis wat vooraf uitgestip word, sonder om die spontaniteit van haar kuns, of die vreugde van die skeppingsproses, prys te gee.
Sy het haar eerste linosnee-reeks ‘Misplaced Bunnies’ genoem, omdat sy gevoel het soos iemand wat nog nie inpas in haar nuwe wêreld nie. “Ek het die kunswerke van die ou meesters soos Monet, Van Gogh, Klimt en Dali geneem en ʼn hasie daarin gesit as ʼn simbool van inpas, aanpas en waarde toevoeg.”
Met die skep van die drie werke vir die reeks ‘Crucible’, waarvoor sy houtskool en olieverf gekombineer het, het Annemie ʼn tydperk van ernstige selfondersoek beleef. “Ek was besig om myself te herontdek en om af te reken met die trauma van die verlede.” Vroue in elegante rokke, elk met ʼn ander dier in haar arms, simboliseer die tradisies en die morele onderbou van die samelewing, terwyl die diere wat elkeen vashou, die kompleksiteit van Annemie se persoonlike transformasie uitbeeld. Die slang, wat so dikwels ʼn negatiewe konnotasie het, verteenwoordig in haar werk ʼn hergeboorte, terwyl die vark deursettingsvermoë en opregtheid simboliseer. Die hase is op die beurt ʼn simbool van lewenslus en suiwerheid.
Haar reeks ‘Rebirth’ ondersoek die mens se verweefdheid met die heelal en alles en almal daarin. In een werk drywend tussen twee hande is Lapine weer daar met ‘n geborduurde hart daaroor. “Dit beeld die broosheid van die lewe uit en hoe ons dit moet beskerm.”
‘Quo Vadis’, ʼn steeds ontwikkelende reeks, is Annemie se dwingende sosiale kommentaar oor religie, kultuur en politiek. In dié reeks linosneewerke wat sy met die hand inkleur, kombineer sy vroulike figure met openbare beeldhouwerke van regoor die wêreld. Een van dié werke is die Lygia en die bul, deur die Italiaans-Ameriaanse beeldhouer Giuseppi Moretti. Dit wys dat ‘n vrou se krag juis in haar kwesbaarheid steek.
Annemie beperk haarself nie met ʼn spesifieke medium nie, want daarvoor is die lewe gans te kort. “Ek is nie ʼn kunstenaar wat altyd vir jou dieselfde wil gee nie – ek wil jou verras. Ek hou daarvan om grense te breek,” sê sy. “T.S. Elliot het gesê: ‘If you’re not in over your head, how do you know how tall you are?”
Dié dat sy besluit het om haar hand aan brons te waag. “Die rede waarom ek so baie van brons beeldhou hou, is omdat dit ʼn stuk van die aarde is wat getemper is in die vuur om ʼn stuk ewigdurende skoonheid te skep.”
Nog ʼn komplekse tegniek waarmee Annemie haarself uitdaag, is die gebruik van ingewikkelde borduursteke op foto’s wat sy van weerkaatsings in waterpoele en winkelvensters in Parys geneem het. “Terwyl ek die kunstenaars-residensie gedoen het, het Cor vir my kom kuier. Ons het na die Franse platteland gery en in Normandië het ons die Bayeux-tapisserie gesien wat die Slag van Hastings in 1066 uitbeeld. Die hele geskiedenis, met voetnotas, word op ʼn 70m-lange stuk linne uitgebeeld en dit het my getref dat jy sonder woorde ʼn hele storie kan vertel.”
Dit was die vonk vir die werke wat sy vir ‘Reflections’ geskep het en haar motivering om borduurwerk te begin doen. En nie net het sy haarself leer borduur nie, sy het haar eie borduur-taal ontwikkel, waardeur sy met die tema van weerkaatsings as kern, kwessies soos introspeksie, ons verweefdheid met ander, die dood, afskeid van ʼn geliefde, trauma en die besef van ons eie sterflikheid uitbeeld. Vir die werk ‘We never said Goodbye’ het sy 6500 steke gebruik en 40 meter gare. “Die steek is aggressief en stel ook rou en trauma voor. Die breek van die papier is opsigself ʼn gewelddadige daad. Rou, nes die tapisserie, is eers afgehandel wanneer dit afgehandel is.”
Vir Annemie het handwerk die krag om haar binnetoe te laat keer en haar te anker. Die tydsaamheid wat dit neem om skeppend te wees, hou diep bevrediging vir haar in. Hoewel al haar werke ʼn besonderse dieper betekenis het, wil Annemie nie die kyker bind met haar persoonlike interpretasie van werke nie. “Almal kom uit hul eie van sien, kyk en ervaar,” glo sy.
By haar eerste uitstalling in Midstream het sy gesien hoe ontroer mense deur die werke was wat sy uitgestal het. “Dit het my getref hoe my werk ander kan raak. Want al is elke ding wat ek doen in ʼn mate ʼn selfportret, en dus ʼn stukkie van myself wat ek met ander deel, kan dit ook iets heel anders vir ʼn vreemdeling beteken en dit maak my baie gelukkig. Die mense wat my kuns koop, hou van die stories wat dit vertel.”
Sy hou daarvan om haar met kuns te omring in haar alledaagse lewe, daarom is funksionele kuns ʼn belangrike onderbou van Annemie se kuns-onderneming. Sy maak alles van koppies tot handsakke, sagte komberse, kalenders en verjaarsdagkalenders, in ʼn poging om haar werk meer toeganklik én bruikbaar te maak. Daar pryk hoeka agter haar stoofblad ʼn reuse weergawe van een van haar “Misplaced Bunnies” kunswerke.
Annemie is reeds besig met die voorbereiding vir haar nuutste reeks, ‘A million little things’, waarin sy opnuut ʼn splinternuwe medium, papier-konstruksie, op die proef gaan stel – die perfekte medium vir Lapine om weer ʼn buiging te maak. Haar volgende uitstalling met hierdie tema is om haar vyfde jaar as voltydse kunstenaar te vier, sê sy en verduidelik waaroor die reeks gaan handel: “Mense dink altyd dis die groot gebare of gebeure wat jou lewe beter of slegter maak, maar ek dink dis in die klein gebeure. Die klein oorwinnings en vreugdes elke dag. Dis nie net een groot ding nie, dis a million little things.”
“Alles wat ek vandag is en het, is absolute genade. As dinge gebeur, besef jy hoe geseënd jy is en hoe maklik jy met die witbrood onder die arm kla. Ek voel as jy in die Here se wil inbeweeg, val dinge in plek. Toe ek ophou skop het teen die prikkels, het die pad vir my oopgegaan.”



